|
Argiewe
‘n Merkwaardige man
Michael Wilhelm Prinsloo (Giel Prens) was die seun van George Diederik
Prinsloo, landdros in ‘die groot Dorslandtrek’ en ‘n regstreekse afstammeling
van die ‘durf-en-daad’ Prinsloos van Slagtersnek. Hy het as jong man aan die
Dorslandtrek van 1877 – 81 deelgeneem en in 1884 saam met ‘n aantal trekkers
teruggetrek tot in Suidwes (Damaraland) en daarvandaan later saam met enkele
trekkers deur die woestyn terug tot in Transvaal. In 1892 is hy weer saam met ‘n
nuwe trek noordwaarts deur die woestyn, by die N’Gami-meer verby, langs die
Kavango verder, by die Etosha-pan langs tot in Angola! In totaal het hy dus ‘n
afstand van tussen nege en tien duisend kilometer afgelê!
Op ‘n vraag van dr. Albert Coetzee, eertydse onderwyser vir die
Dorslandkinders in die vroeë 1920’s, waar hy woon, het Oom Giel Prens met ‘n
ondeunde kyk in sy oë en terwyl hy met sy sambok suid-oos beduie, geantwoord dat
hy nog nie ‘woon’ nie, maar dat hy ‘daar anderkant die koppetjie bly’. Dan gaan
dr. Coetzee voort: ‘Sy graf in Angola is een van die bakens op die voorpos van
die beskawing vir die vestiging en uitbreiding waarvan ‘n nuwe nasie deur die
Allerhoogste geskep is – die Afrikanernasie.”
Die trekkerbloed het dik in Oom Giel se are gevloei. So het hy aan dr.
Coetzee bevestig dat hy nog graag noordwaarts tot in ‘Egipte’ met sy ossewa sou
wou trek, maar dat die vlieë (tsetse-vlieë) dit onmoontlik maak. Verskeie
staaltjies was dan ook oor hierdie merkwaardige mens in omloop. So het hy ‘n
leeu, wat besig was om aan een van sy osse te vreet, van so naby geskiet dat hy
die voorpunt van sy geweerloop as’t ware teen die leeu se lyf gedruk het toe hy
die skoot afgetrek het. Kort nadat hulle oor die Kunene in Angola ingetrek het,
het hy met sy gesoute perd vingeralleen ‘n opstandige inboorlingstat ingeneem
deur die perd dwarsoor die heining te laat spring. Die inboorlinge was so
verskrik dat hulle onmiddellik op die vlug geslaan het! En in sy ouderdom moes
hy op ‘n donkie ry omdat perde nie in Angola geaard het nie.
Soos hier bo gemeld, is hy saam met ander trekkers in 1884 terug Suidwes toe.
In Damaraland het die inboorling vir Roelf du Toit vermoor en daarna Giel se
vader se bees gesteel. Giel, Dolf Holtzhausen en ‘n paar seuns het in die
maanlig die platgetrapte gras gevolg waaroor die vee aangejaag is. Teen ‘n rant
het hulle die vure van die rowers gewaar en uiteindelik het Giel alleen nader
gegaan en die rowers bekruip tot teen ‘n rots vlak by een van die vure. Van daar
het hy aangelê op die kaptein, geklee in die vermoorde Roelf du Toit se klere,
waar hy sy hande oor die vuur staan en warm maak het. Giel het hom geskiet dat
hy vooroor in die vuur val. Soos afgespreek, het die ander drie wild begin skiet
asof hulle ‘n hele kommando is. Die rowers het gevlug en die beeste, behalwe die
een wat geslag is, is teruggeneem na die laers.
Giel Prinsloo was inderdaad ‘n mens wie se nagedagtenis gehuldig moet word.
Met erkenning aan dr. J. Albert Coetzee.
‘n De Lux-model Ossewa
Een van die gesinne wat die eerste Dorslandtrek meegemaak het, was dié van
die oue heer Johannes Marthinus van der Merwe (Oom Hans), ‘n Voortrekker uit die
Kaapkolonie. Hy was ryk en kon ‘n rustige lewe op sy plaas, Rusfontein, in die
distrik Pretoria ly. Maar in die binneste van hierdie twee-en-tagtig jarige ou
trekker en sy groep was daar ‘n onweerstaanbare verlange om te trek, in hul are
het die trekkerbloed verlang na die rustelose van so ‘n beweging. Hulle het maar
eenvoudig beantwoord aan die eerste bestemming van die nasie – om Afrika te
bewoon’.
Oom Hans het sy lang tentwa gerieflik ingerig met ruitvensters aan weerskante,
plankdeure voor en agter in plaas van seildoeklappe en in die tent ‘n stoof,
waarop die kos in die ry gekook kon word. Hiervoor het hy spesiaal ‘n jong ‘grootmaakskepsel’,
Paadji Rol, saamgeneem, wat later in Angola beroemd geword het as kok vir die
besoekende predikante. Oom Hans van der Merwe is in die ouderdom van 92 jaar in
Angola oorlede. Paadjie Rol is in Januarie 1924 oorlede, ook op Humpata.
Met erkenning aan dr. J. Albert Coetzee.
Die Skoot in die Nag – ‘n Groot Storie!
Aan die begin van die vorige eeu was oom Gielie ‘n transportryer in die
noordweste van Angola. Hy het een aand diep ingedagte op die voorkis van sy wa
gesit. Die lug was bewolk en sonder enige maanlig of sterlig, was dit baie
donker. Die wa het baie stadig beweeg in die rigting waar hulle hul reisgenote
moes ontmoet.
Skielik is hy bewus van ‘n onrus onder die osse. Die touleier, Vittorio, roep
in sy moedertaal, Chimbundu, na agter: “Oubaas moet kom kyk, hier is groot fout
by die osse!”
Oom Gielie spring met die gelaaide Martini-Henri in sy hand van die wa-kis af.
Hy roep na Dumbu om die briek aan te draai en te kom help. Gelukkig het oom
Gielie ‘n dosie vuurhoutjies in sy sak en met die eerste vuurhoutjie-liggie kry
hy ‘n groot skok! ‘n Yslike groot leeumannetjie het virBlokland, die
staatmaker-os hot op ses, aan die bek en neus beet en skuifel saam soos die span
osse beweeg.
Dumbu trek nog ‘n vuurhoutjie en oom Gielie voel met die een hand presies
waar die oor van die leeu is. Met versigtige berekening van die rigting waarin
die koeël gaan trek, druk hy die geweerloop in die leeu se oor en trek die skoot
af. Die leeu gee ‘n laaste roggel en los die os se bek. Die touleier het al sy
moeite om die osse, nou baie onrustig weens die geweerskoot en die leeureuk,
weer tot bedaring te bring.
Dumbu en Vittorio sleep die leeu na die agterkant van die wa en help oom
Gielie om dit met ‘n groot gesukkel agter op die wa te laai. Die reis word
hervat na waar die twee reismaats reeds wag.
Met groot verligting sien hulle later die vuur by die ander uitspanning.
Salmon en Koos wil dadelik weet van die skoot wat hulle gehoor het en word die
leeu agter op die wa gewys. Daar word uitgespan en die osse se rieme word aan
die jukke vasgemaak. By die lig van ‘n groot stuk brandende hout sien hulle dat
die beserings aan Blokland se neus en bek gelukkig nie baie erg is nie.
Met eerste lig slag Dumbu en Vittorio die leeu af en sout die vel. Nou kan
oom Gielie sien hoe maer die leeu en stomp sy tande is. Hulle besef dat dit ‘n
ou leeu was wat waarskynlik deur ‘n jong, sterk mannetjie uit die trop verdryf
is. Die arme dier was waarskynlik desperaat van die honger en ‘n os in ‘n
stadig-bewegende span was die ideale prooi.
Met erkenning aan: Lenie du Plessis
*01.01.1929
†31.07.2004
Verhaal opgeteken in 2002.
Eerste keer verskyn in “Little Texas”, Gobabis
ARGIEFNAVORSING
‘n Onbekende persoon, wat later ‘n vriend geword het, het eendag vir my ‘n
e-pos uit Pretoria gestuur. Hy het in die Nasionale Argief twee interessante
lêers raakgeloop. Die lêers is onder die korrespondensie van Buitelandse Sake
(BTS) en handel oor die volgende aspekte:
BTS 86/7/1 Settlement of Angola farmers in South-West Africa: 1928 -1965
BTS 86/7/1/1 Assistance to Angola Farmers: 1955 – 1959
BTS 86/7/1/1 Angola Farmers Festival at Humpata: 1957 – 1958
Toe ek onlangs in Pretoria was, het ek hierdie lêers opgespoor en dit baie
interessant gevind. Ek noem dit omdat daar dalk mense is wat eendag hierdie
geskiedenis wil navors. Interessanthede wat ek raakgeloop het, is onder andere
die volgende:
1. Gesinne in Angola: Mnr Alfred Meyer, wat die S.A. konsul in Angola
was, rappor-teer dat die verspreiding van die mense voor hulle terugkeer in 1929
soos volg was:
- Die Sandveld (Ochinjao – krokomokukma) 80 gesinne
- Humpata (Palanca-Vaalkop) 100 gesinne
- Cubal (Hanja – Hoëveld) 20 gesinne
- Que (Kee) Calugnambe 50 gesinne
- Zepi (Huambo, Cahala, Longonjo, Cuando 30 gesinne
- Mombolo (Namba, Cuimbira, Dumbie 60 gesinne
- Libolo (Bailundo, Kasulo) 10 gesinne
- Chinguar (Sacanjimba) 20 gesinne
- Kasai (Diamantveld) 15 gesinne
- Verspreidwonendes 50 gesinne
Totaal 435 gesinne
2. Die Afrikaners was onwelkom in Suidwes Afrika
In sy boekie het mnr E T Meyer volledig aangedui dat die Angola-boere in
1928/1929 onwelkom was in Suidwes Afrika. Dit is interessant dat, ten spyte van
die aandrang van Administrateur Werth dat die Angola-boere ook deur die
Wetgewende Vergadering van Suidwes Afrika gehelp moet word, het hulle die geld,
£50 000, by monde van die Voorsitter, Mnr Albert Voigts, afgekeur. Daar is
aangedring dat as die Angola-boere sou inkom, daar ook 50 Duitse gesinne
ingevoer moet word. Op sigself was dit seker nie verkeerd dat Duitse gesinne
toegelaat word nie, maar dit was na die Eerste Wêreld-oorlog en was daar nog
steeds spanning tussen Suid-Afrika en Duitsland.
3. Die fees in Humpata
Van 4 - 8 Julie 1957 was daar ‘n herdenkingsfees in Humpata. Dit is bygewoon
deur 250 Afrikaners en 200 Portugese. Verskeie eredienste is gehou en al die
begraafplase is besoek. Die amptelike opening is waargeneem deur die Voorsitter,
mnr Georg van der Smit. Tydens hierdie geleentheid is die monument aan die
Portugese Regering oorhandig. Al die dokumentasie is agter die steen wat daarin
aangebring is, toegemessel.
Bydrae: Jurie Viljoen
|